Original Articles

VERWYSING BINNE 'N KONTEKSTUELE RAAMWERK

DOI: 10.1080/10118063.2000.9724556
Author(s): S, MC Prinsloo Departement Afrikaans, , ML Seshoka Departement Afrikaans, ,
Keywords: ,

Abstract

Verwysing is een van die vyf soorte kohesiekettings wat deur Halliday en Hasan (1976) geidentifiseer is. Dit behels die beginsel dat twee of meer elemente in dieselfde teksgedeelte semanties met mekaar geassosieer kan word. Hierdie elemente, die antesedente en anafore, vorm anaforiese kettings wat teksbinding tot gevolg het. Die vertelling, “Die kwaai pa”, is daarop toegespits om die leser te vermaak en klem word geplaas op die buitengewone handelinge, en nie op die karakters in die vertelling nie. Die verwysingsisteem is funksioneel hierby aangepas. Identifikasie van referente geskied nie deur middel van eiename nie, maar deur middel van leksikale naamwoordstukke. Ten opsigte van die struktuurelement oriëntasie waarin die karakters, plek en tyd waarop die vertelde gebeure plaasvind, gegee word, is verder waargeneem dat ook die plek en tyd nie eksplisiet aangedui word nie. Dit word aan die leser oorgelaat om uit die leksikale elemente wat in die verwysingsisteem gebruik word, die nodige afleidings in hierdie verband te maak. Daar is ook bevind dat deur die vernuftige gebruik van sekere naamwoordstukke, gradering bewerkstellig word op grond van die konnotatiewe waarde wat aan hierdie woorde geheg word. Die tema van die vertelling is die optrede van 'n baie kwaai pa en die opeenvolgende gebruik van sekere naamwoordstukke het progressie ten opsigte van die graad van kwaaiheid tot gevolg. Afwisselende naamwoordstukke word dikwels gebruik om na 'n referent te verwys, maar die tipe naamwoordstukke wat gebruik word, hou verband met die persoon vanuit wie se perspektief die verwysing geskied. So word byvoorbeeld wanneer vanuit 'n kind se perspektief na sy ouer verwys word, naamwoordstukke gebruik wat respek weerspieel, maar wanneer na dieselfde referent vanuit die perspektief van die verteller verwys word, weerspieel die verwysingsisteem 'n affekties negatiewe houding. Daar is bevind dat die verwysingsisteem op 'n uiters suksesvolle wyse funksioneel aangepas is om die vertelling in sy doel te laat slaag.

Get new issue alerts for South African Journal of Linguistics